Geagte vriende,
Wat ‘n jaar was dit nie… Vir die eerste keer in ‘n lang tyd het ek ‘n vinnig genoeg internetkonneksie en genoeg tyd om vir julle ‘n ou possie te kom skrywe.
Adam is deesdae ‘n onderwyser.
Oraait… Hou nou maar op met lag. Ek gee Engels huistaal by ‘n swart privaatskool buite Pretoria. En snaaksgenoeg geniet ek dit nogal. Die onderwys as sulks is nie te bad nie, as dit net nie vir die kinders was nie… Ek het altyd gesê ek sal nooit kan skool hou nie want ek dink die dom kinners sal my irriteer. Dis toe nie so nie. Mens ignoreer hulle maar net.
Ek het ‘n paar Graad 8 klassies en een Graad 11 klas. Die weird ding is dat hulle nogal bang is vir my. Seker omdat ek manlik en wit is. Hulle hoef nie te weet watse softie ek eintlik is nie.
My studies word bietjie afgeskeep. Ek het toe wel my honeurs gekry. (Applous). En is besig met my PGCE (dis die ou HOD vir die van julle wat nie weet nie). Ek het ook intussen besluit om nie meer Kliniese Sielkunde te doen nie, maar Opvoedkundig. Ongelukkig moet ek nou opvang met die opvoedkunde. Dis waar die HOD inpas. Dis die kortpad. Die langpad sou wees om Opvoedkunde III by te werk, en dan my honeurs oor te doen. Instede daarvan doen ek nou HOD, en volgende jaar doen ek 3 vakke ter wille van B.Ed ekwivalensie. Dan kan ek volgende jaar hierdie tyd aansoek doen vir M.Ed Psig.
Dit klink erger as wat dit is.
Met almal tuis gaan dit ook goed:
- Tudor is vir my ma’le gegee. Hy is baie gelukkiger op die plot.
- Satine is steeds die grootste bitch suid van die ewenaar.
- Karolus is steeds die grootste pissie suid van die ewenaar.
- Lolla is ‘n groter klein Delilla as ooit. Sy steel net harte so ver as wat sy gaan.
Oja. Amper vergeet ek die grootste nuus van als. Op Sondag 22 Junie (let wel: die eerste naweek van my Junie-Julie vakansie) besluit my blindederm om te bars. Dit was ongeveer 16:30. Op daardie stadium dog ek dis ‘n niersteen, aangesien als suid van my naeltjie toe in spasma gaan. Almal by die hospitaal wil net hê ek moet vir hulle pee, maar niks kom uit as gevolg van die spasmas nie. Terwyl ek vir die dokter wag trek ek my broek tot op my bobene af. Die dokter kom in die ondersoek kamertjie in en sy eerste woorde is: “Vir wat lê jy nou so?” Ek antwoord toe: “Want dis moer seer en gee so gou as moontlik vir my iets vir pyn!” Na ‘n vinnige catscan kom hul toe agter dis die derm en nie ‘n steen nie.
Half nege die aand kry ek ‘n noodoperasie. Voor die tyd sê die nurste vir ons dis ‘n vinnige prosedure. Net ‘n halfuur dan’s ek uit die teater. Twee ure later begin Andries erg bekommerd raak. Dis omdat die span toe eers op die tafel besef dat die dinges actually gebars het.
Vyf dae later is ek by die huis sans blindederm. En nee, hulle het hom nie vir my in ‘n botteltjie gegee nie…
Sederdien sukkel ek met maagpyn etc. Ek gaan toe op ‘n streng dieet. In die sowat drie maande vanaf die operasie het ek nou al amper 10kg verloor! And proud of it!
Oja, ek het ‘n nuwe kar ook gekry. Ek het vir Katinka verkoop en vir Tebogo aangeskaf. Katinka was ‘n 1996 VW Chico. Tebogo is ‘n 2006 Renault Clio 1.2 VaVaVoom. En haar petrolverbruik is onverbeterlik! Dit was die hoofrede vir die transaksie, aangesien ek daagliks omtrent 100km moet ry. Sy het gister haar 45 000km diens deurgemaak.
“Wat vir ‘n naam is Tebogo?” vra een van my vriende na die aankoop, “Jy kan haar nie Tebogo noem nie. Sy’s dan wit!”
Nouja, laat ek nou maar vir eers groet. Hopelik hoor jul nie eers weer oor ‘n jaar van my nie.
Groetnis,
A.
Nuwe Kommentaar