Archive Page 2

Die ongelooflike ervaring van die soeke na die self…

Ek is tans besig met ‘n taak oor eksistensiële psigoterapie (my laaste vir die jaar - en reeds drie weke laat). Ek laaik hierdie ouens. Hulle dink soos ek.

In sy boek, Man’s search for meaning, haal Victor Frankl vir Nietzsche aan:

“He who has a why to live for can bear with almost any how.”

Die konsepte en lesse waarvan die manne praat in my handboek het geweldig baie in gemeen met die plek waar ek myself vind. Hulle praat van die bewustheid van die self, van vryheid en verantwoordelikheid wat hand aan hand gaan, van die strewe na ‘n eie identiteit en terselfdertyd ons verhouding teenoor ander mense (die waagmoed om te wees, die ervaring van alleenheid, en die ervaring van behorenheid, asook die struggle met ons identiteit). Hulle praat van die soeke na betekenis, waarin ons noodgedwonge sommige van ons ou waardes moet afsterf. Hulle noem ons verhouding met betekenisloosheid, en die ervaring waar ons nuwe betekenis skep nadat ons vrede gemaak het met die situasie van betekenisloosheid. Dat angs een van ons grootste dryfvere in die lewe kan wees, as ons maar net die lewenskrag daaragter kan insien. Dat groei plaasvind wanneer ons hierdie angs trotseer. En laastens, die bewustheid van dood en nie-bestaan, en dat ons ‘n voller lewe sal lei as ons ons sterflikheid in ons bestaan inkorporeer.

Ek dink hulle is nogal amazing, die eksistensialiste.

Hulle is nie almal manne nie. Emmy van Deurzen-Smith was/is ‘n baie oulike vrou wat die volgende ongelooflike woorde kwytgeraak het:

Embarking on our existential journey requires us to be prepared to be touched and shaken by what we find on the way and to not be afraid to discover our own limitations and weaknesses, uncertainties and doubts. It is only with such an attitude of openness and wonder that we can encounter the impenetrable everyday mysteries, which take us beyond our own preoccupations and sorrows and which by confronting us with death, make us rediscover life. *

* Die kwotasie kom uit haar boek “Everyday Mysteries: Existential dimensions of psychotherapy” gepubliseer in 1997.

Daar word ek waragtag toe weer getag…

EOH was so gaaf om aan my te dink in die nuutste blogosfeer tagging game.

Die reels:

  1. Post these rules before you give your facts.
  2. List 8 random facts about yourself.
  3. At the end of your post, choose (tag) 8 people and list their names, linking to them.
  4. Leave a comment on their blog, letting them know they’ve been tagged.

My randomness:

  1. Ek is ‘n kat mens.
  2. Ek en Duskant was saam op skool. (Hy is relatief nuut tussen ons ouer bloggers, so ondersteun hom bietjie.)
  3. Ek het in Graad 2 ‘n breikompetisie gewen.
  4. Ek het onlangs ingeskryf op The Art of Knitting - tot my ma se groot bron van humor. Ek het die naweek my eerste werk klaargemaak. Dit lyk so:Mussie #1
  5. Ek is op die punt om my werk te bedank en in Thailand te gaan skoolhou. Daar is net nog enkele logistieke kwessies wat hulself moet uitstryk.
  6. Ek swot nog ewe getrou aan my BA Honneurs in Sielkunde, maar beplan nie meer om ‘n sielkundige te word nie. For now.
  7. Sewe is my gunsteling nommer.
  8. Ek skryf nie meer gedigte nie. Ek wens ek het nog. Ek weet ek kan nog.

Nou ja. Daar het julle dit. Ek is nie juis lus om iemand te tag nie, maar ek sal maar: Lize van Lize Living, B van Marita Says, N van duskant sutherland, etc. etc.

Nou ja, daar het ons dit nou…

Aangesien my kerk gister besluit het dat dit sonde is dat ek en Andries openlik lief vir mekaar is, het ek nou ‘n goeie rede om uit die kerk weg te bly.

Sela.

My magtag! Wie sou kon raai?

Met ‘n skok en ongeloof kom ek sopas op ‘n Harry Potter onderwêreld af. Dit is ‘n hele nuwe storie wat hom (klaarblyklik )in die agtergrond van die verhaal afgespeel het.

Blykbaar is Sirius en Remus al van skool dae af in ‘n verhouding. Jislaaik. Hoe kon ek dit mis kyk. Ek?! Die een wat altyd wonder of almal gay is of nie. (Andries gooi hierdie beskuldiging gereeld in my kraal: “Jy dink altyd almal is gay!”)

close_to_me_by_sirius_x_remus.jpg

n21313170_32691117_7388.jpg

remus_and_sirius_by_sirius_x_remus.jpg

remus-and-sirius-35457.jpg

remus-and-sirius-35456.jpg

6a00c2251d4536f21900cdf3a993decb8f-320pi.jpg

hp021.jpg

Wie sou kon raai? Well, shave my legs and call me grandpa! Ek is stomgeslaan…

Twee weke later…

Wel, bietjie meer as twee weke later.

Adam has thunk, and thunk, and thunk, and thunk… Ek het mense se opinie en raad gevra. Ek het besluit om ‘n ander rigting in sielkunde in te slaan en toe weer besluit om op te hou swot. En toe besluit om dalk bedryfsielkunde te oorweeg, en toe weer besluit om op te hou swot.

Die ding is, Adam is nie die beste student wat hierdie wêreld al gesien het nie. En ek swot nou al vir tien jaar aanmekaar. Ek is nou moeg geswot. En ongelukkig is dit maar so dat mens se moontlikhede al hoe minder word hoe verder jy swot.

Die raad waarvan ek die minste gehou het, maar wat die meeste waar is, is dat die antwoorde net op een plek gevind kan word, en dit is binne myself.

AAAAAARRRRGGGHH!

Ek het ook onder ander op ‘n quote van Mark Twain afgekom:

“Never let formal education get in the way of your learning”

Nou ja. Wat kan ek nou meer sê as dit?

My gemoed het ook helaas begin lei onder die konstant bombardering deur my ego. Ek het agtergekom dat een van my grootste probleme in die lewe is dat ek my identiteit probeer koppel aan die werk wat ek eendag wil doen. Mmm. Dit beteken ongelukkig dat daar nog heelwat introspeksie is wat moet plaasvind. Ek het al die maklike en veilige maniere van self eksplorasie reeds gedoen. Al wat my nou te doen staan is om effens (of selfs hewig) uit my comfort zone te tree, om sodoende agter te kom watter rigting ek op die ou end moet inslaan.

Intussen probeer ek myself op allerande vreemde maniere opbeur:

photo-0186.jpg

Los vir myself opbeurende boodskappies op my hand…

Union Jack naels

Kleur my naels in met my fineliners…

Leer my suster se kinders joga

Leer my suster se kinders joga…

Ek voel soos Suid-Afrika na 2010…

Ek was te bang om die teenpool te oorweeg, en glo nogal sterk daarin dat elke mens sy eie realiteit skep. Dus het ek bloot geweier om die teenpool te bedink, aangesien te veel investering van energie dit dalk moontlik sou bewaarheid.

Ek het nog altyd gedink my pad vorentoe is redelik goed uitgelê. Die enigste struikelblok sou wees om al my studies af te handel om net te begin werk. Van die begin af het ek geweet dat dit nie so eenvoudig gaan wees soos dit hierbo klink nie. Daar sou op ‘n stadium keuring betrokke wees. My geloof in myself was sterk, en ek was gefokus op ‘n positiewe uitkoms. Dit besluit sou egter op die ou end nie in my hande wees nie.

Ek doen toe so ‘n maand gelede aansoek vir my Meestersgraad. Ek is positief oor my aansoek, en ek is positief oor die uitkoms daarvan.

Ek het by twee universiteite aansoek gedoen. Die eerste is waar ek my voorgraads gedoen het. Ek wou nie regtig my M daar gaan doen het nie, maar dog toe ek doen maar aansoek. Ter wille van die ondervinding, sien. Ek bel om te hoor. My naam is nie op hulle lys nie. Ek is egter nie uitgefreak nie, omdat ek in elk geval nie graag daar wou swot nie. Die element van skok speel wel ‘n rol, en ek is vir ‘n oomblik gefaze.

Vandag bel ek die tweede universiteit. Ek probeer steeds positief bly, en hou myself kalm terwyl die dosent aan die anderkant eerstens haar lys soek, en toe my naam op haar lys soek.

“No, your name is not on the list. Sorry”

‘n Paar dinge gebeur tegelyk in my brein, en ook eintlik glad nie. My heel eerste gedagte is: Okay. Cool. Jy sal oraait wees.

‘n Ruk later skop my rasionaliserings sin in, en probeer ek dink wat die implikasie nou eintlik hiervan is. Die vraag ontstaan onwillekeurig: Wat nou?

Wat nou?

Ek weet nie. Ek probeer my opsies kortliks opweeg, maar hulle wil nie vir een oomblik stilsit nie. Hulle hop heeltyd op en af op die skaal. Soveel so dat die  weegskaal soos ‘n olieboor tekere begin gaan. Ek besluit om die teenoorgestelde te doen. Ek probeer die paadjie van denial, en ek skakel alle gedagtes daar rondom uit my kop.

Wat nou?

Sjuut, sê ek vir myself. Moenie nou daaraan dink nie.

Maar, wat nou?

Ek besluit om vir Andries te sms: “Ek is nie op Unisa se kandidate lys nie. Wat stel jy voor doen ek nou? Ek is bietjie moeg vir swot.” Andries het my nog nie geantwoord nie. Ek is nie lus om my ma te laat weet nie, want sy gaan my dadelik bel, en ek is nie lus om daaroor te praat nie. Ek is bang sy vra vir my wat nou gaan gebeur… Ek weet nie. Dit gaan dus ‘n sinnelose gesprek wees. Ek sal eers met haar gesels as die ding bietjie in my kop gemarineer het.

Ek los ‘n notatjie vir my baas. Sy vra hoe voel ek. Ek sê vir haar ek is orraait, maar ek dink dit sal my bietjie later tref. Sy sê ons kan later bietjie gesels oor die implikasies. Ek sal dit waardeer.

Al wat ek nou weet is dat daar nie ‘n Plan B is nie.

Ek voel soos Suid-Afrika na 2010: leeg en onbeplan.

Adam 101

Vir die van julle wat nog nie van Adam weet nie, hier volg ‘n kort opsomming:

1. Ek het blou oë.
2. Ek het mooi hande.
3. Ek het mooi bene.
4. Ek het vir twee jaar geballet (verwys terug na nr.3).
5. Ek swot sielkunde
6. My pa is dood toe ek 4 en 3/4 jaar oud was.
7. Ek trek tans by stiefpa nommer twee.
8. Ek hou heelwat meer van stiefpa nommer twee as van stiefpa nommer een.
9. Ek hou van my baas.
10. Ek hou van my naam.
11. Ek het my pa se naam geerf (lw. nrs. 10 en 11 het niks met mekaar te doen nie).
12. Ek hou van ‘n groot verskeidenheid musiek, te veel om op te noem.
13. Ek hou van skilder en teken, alhoewel ek dit so lanklaas gedoen het dat ek nie eintlik meer kan onthou hoe dit voel nie.
14. Ek hou van skryf.
15. Ek hou van my eie handskrif.
16. Ek hou van my eie handtekening.
17. Soms dink ek ek praat te veel oor myself.
18. Ek het nie juis groot vrese in die lewe nie.
19. Behalwe om geskiet te word.
20. Ek gril meer vir slange as wat ek vir hulle bang is.
21. Dis hoe oud ek was toe ek uit die kas gekom het vir die hele wêreld.
22. I’ve been known to talk to angels.
23. Ek hou van die natuur.
24. Ek hou van my land, maar nie van die manier waarop hy bestuur word nie.
25. Ek gaan Kanada toe emigreer, so gou ek kan.
26. My geliefde gaan saam met my Kanada toe.
27. Ek hoop my katte kan saamgaan Kanada toe.
28. Blykbaar gaan ons worshond saam Kanada toe.
29. Ek ry ‘n wit Chico met die naam Katinka.
30. Ek hou van blou.
31. In die winter is my hande en voete ysig koud.
32. Niksdoen is een van my gunsteling tydverdrywe.
33. Ek was al twee maal in my lewe op ‘n perd. Die tweede keer was nogal snaaks.
34. Ek onthou selde my drome.
35. Ek het swemlesse gehad toe ek klein was.
36. Ek wil graag 10kg verloor.
37. Ek is ‘n emosionele eter.
38. Ek doen soms yoga.
39. My 6e en 7e nekwerwels is aan mekaar vasgemaak.
40. Ek vermy dit om op my kop te staan tydens yoga (verwys na nr.39).
41. My ma weet ek is gay.
42. So ook my broers en susters.
43. Ek is die jongste van vyf kinders.
44. Dis hoe oud my pa was toe hy dood is.
45. Ek is nie religieus nie, maar wel spiritueel.
46. My ma weet nie dat ek nie meer in God glo nie.
47. Ek is lui.
48. Ek hou van sjokolade.
49. Ek hou nie van amandel geursel nie.
50. Ek is regshandig.
51. Ek is disleksies.
52. Ek is ‘n kat mens.
53. Ek dink Buddhisme is cool.
54. Ek hou van bome.
55. Ek voel skuldig oor my Bonsai’s.
56. Ek het my beste vriend vyf jaar laas gesien.
57. Ek haat dit om kontak met mense te verloor.
58. Ek is verslaaf aan sosiale interaksie.
59. Ek is verslaaf aan FaceBook (verwys na nr.58).
60. Ek was twee maal hierdie jaar by ‘n medium/psychic.
61. Ek het my leerlinglisensie die eerste keer gedruip.
62. Ek het vir drie jaar bestuur voor ek my leerlinglisensie eksamen gaan skryf het.
63. Ek hou van gedigte.
64. Sterk vroue fassineer en trek my aan.
65. Ek is 1cm korter na my nekoperasie.
66. Ek is 1m85 lank.
67. Ek is nie skaam om my crocs in die openbaar te dra nie.
68. Ek is bang vir eerste ontmoetings (of om verlore vriende weer te sien).
69. Ek is bang vir teleurstelling (verwys nr.68).
70. Ek raak maklik vasgevang in die uitkoms van sake voordat ek nog ‘n tree in daai rigting gegee het.
71. Ek doen geweldig baie introspeksie.
72. Ek is bang vir huil.
73. Die laaste keer wat ek gehuil het was twee Sondae terug tydens ‘n Lion King vertoning, vir die olifant.
74. Olifante is een van my gunsteling diere.
75. Ek wonder soms wat ander mense van my dink, maar raak nie verstrengel daarin nie.
76. My beste eienskap is my aanpasbaarheid.
77. Ek is ongelooflik rustig en geduldig.
78. My ma dink ek is gevrek.
79. Ek hou van ‘n droë sin vir humor.
80. Ek kyk in winkelsentrums na ander mans se bene.
81. Ek wil graag ‘n vegetarier word, maar ek hou te veel van vleis…
82. Ek is perfeksionisties.
83. My gunsteling tyd van die jaar is die lente.
84. Ek is ‘n skerpieon wat byna nooit sy angel uithaal nie.
85. Ek probeer om mense nie te kategoriseer nie, maar doen dit gereeld.
86. Ek wil vriende word met almal wat ek ontmoet (met hier en daar ‘n uitsondering).
87. Veral met belese, intelektuele en gekultiveerde mense (is erudiet die woord waarna ek soek?).
88. Om lekker kos met goeie vriende te deel is een van my gunsteling aktiwiteite.
89. Ek werk as ‘n persoonlike assistent in ‘n sielkundige se praktyk.
90. Eendag as ek groot is wil ek ‘n kliniese sielkundige wees.
91. Arrogante mense pis my af.
92. Ek besit ‘n iPod.
93. Ek besit ‘n laptop.
94. My meenthuis het die grootste tuin in die kompleks.
95. Ek hou van tuinmaak.
96. My honde nie.
97. Ek is ‘n label queen.
98. Ek is besig om my hare te groei.
99. Buitelanders fassineer en trek my aan.
100. My comfort food is enige van my ma se eenpot geregte.
101. My passion food is Thai cuisine.

Progressie

So word ek toe meegesleur deur die stroom, en open ek vir my ‘n WordPress rekening.

Bly te kenne. Hoop ons tweekies werk goed saam…

« Previous Page