Woensdag…

Nou ja, daar het al weer baie see in die water geloop vandat ek laas met julle kom gesels het. Ek het besluit dat ek vir altyd sal wag om oorsee te gaan as ek moet wag vir die geld om dit te kan doen.

Terwyl ek geswot het (ek besef ek is nog besig om te swot - maar nie vir lank nie - so hear me out) het ek my huidige werk as ‘n job gesien. Iets wat geld inbring tot ek eendag my beplande loopbaan kan begin. Toe kry ek nie keuring nie. En toe besluit ek dat ek nie binnekort verder gaan swot nie. Skielik word my huidige job ‘dit wat ek vir ‘n lewe doen’.

Danksy Bordeaux se entoesiasme oor Thailand het ek met die idee in my agterkop begin speel. Op ‘n dag kry ek ‘n sms van my suster: “Stel jy nie dalk belang om te gaan Engels gee in Thailand nie?” Ek val amper van my sekretaresse stoel af, en sms haar dadelik terug: “Jaaa, hoe het jy geweet?”

So stuur ek toe ‘n week later my CV vir die kontak van my sussie, wat ‘n kontak is vir ‘n skool in Thailand. Die pos is vir Novembermaand. Ek lig die baas in dat ek moontlik op kort kennisgewing sal moet waai ens. ens. Ek is vrek opgewonde. My intuïsie sê vir my dis die regte ding om te doen.

Andries gaan sit toe so bietjie en dink oor die saak. Hy heroorweeg ons opsies vir Kanada, en besluit dit sal beter wees as ek eers Aprilmaand gaan, want dan stoot dit ons punte vir Kanada op (julle weet ons wil Kanada toe emigreer?). So pak ek die tas wat reeds in my kop ingepak is maar weer uit. Eers is ek ‘n bietjie afgehaal en my entoesiasme gedemp, maar ek aanvaar dit toe as beter so…

Intussen het ek nog niks gehoor van my sussie se kontak nie, en wonder in my agterkop of dit die gevolg van my non-commitment is, en dat die universe vir my wag om ‘n besluit te neem…

Verder besluit ek om my CV vir ons kontak in Kanada ook te stuur, sodat hy solank vir my werk daar kan begin soek.

Oor die naweek pak my nek weer op. Soos ek hier sit en skryf is ek vol spierverslappers en het ‘n TransAct oor my skof geplak.

Gister neem die baas my vir koffie en ‘n vergadering. Sy sê dat haar kop ook ongelukkig begin dink het vandat ek gesê het ek wil aan beweeg. Sy het oor haar opsies ook begin dink. Sy kan sien dat my energie vlakke laer is as gewoonlik, en dat ek bored is by die werk, en dat sy dink dit sal ‘n goeie ding wees as ek iets anders gaan doen. Iets meer uitdagend en stimulerend. Sy dink Thailand sal goed wees vir my en Andries, en ons moet dit sien as ‘n tipe proef-emigrasie, om te sien hoe en of ons sonder ons vriende en familie klaarkom. Slim vrou my baas. Verder sê sy vir my ek moet kyk na die simboliese betekenis van my nekspasma. Mens se nek is die verbintenis tussen jou kop en jou lyf, en as jy daar moeilikheid optel moet jy jouself afvra hoekom is daar fout met die konneksie. Sy luister my uit en sê toe sy dink dis omdat dit wat my kop en hart vir my sê teenstrydig is met mekaar… Soos ek sê, slim vrou my baas.

So, nou’t ek gedink ek moet dalk tot die einde van die jaar werk, en dan my fortuin (of dan stimulasie) elders gaan soek. Net om seker te maak dat ons Kanada kanse nie in die wiele gery word nie, sal ons eers die TOEFL eksamen gaan doen, want dit kan ook ons Kanada punte beïnvloed. As ons goed doen in die TOEFL, beteken dit ons kan maar Thailand toe gaan. As ons minder goed doen, beteken dit ons moet wag tot April.

Ons het darem intussen aansoek gedoen vir ons paspoorte, en ek het ‘n tydelike ene ook gekry vir ingeval ek skielik moet gaan. Ek het ‘n transkripsie van my graad gekry, en my sertifikaat laat vertaal.

Om ons kanse vir werk in Thailand te verhoog, sal ons albei die TEFL kursus ook moet doen. As ek eers in of na Desember oorgaan is daar darem genoeg tyd om dit ook af te handel.

Nou ja, in ‘n neutedop waar ek deesdae staan…

5 Responses to “Woensdag…”


  1. 1 idiwidi 17 October , 2007 at 15:17 pm

    Daar is altyd werk in Thailand, Taiwan, Korea, Japan vir Engelse onderwysers. Sekere plekke betaal net beter as ander. Moenie jouself vasteken in ‘n kontrak voor jy daar aankom nie. Koop ‘n vliegkaartjie en gaan soek eerder ‘n werk op jou eie as om deur ‘n agent te werk. Dis maklik om in Thailand oor die weg te kom. Sterkte!

  2. 2 orchidhunter 17 October , 2007 at 17:40 pm

    Moenie bekommer oor die TOEFL nie. As jy al ooit ‘n Engelse boek gelees het, verstaan hoe Engelse grammatika werk, en ‘n orraait woordeskat het, sal dit maklik gaan. Ek moes mos ook een van dié geldmaak-eksamens aflê. En ek het ‘n vriendin wat ‘n JET (Japanese English Teacher) is, en sy het geen probleme met die TEFL gehad nie.

    Ek is jammer jou nek pla alweer. Is dit psigosomaties?

    Ek sal nooit vergeet wat ‘n lid van die daystaff by ‘n boekwinkel waar ek gewerk het, eenkeer vir my gesê het nie: “I have to avoid confrontation. I can’t just say what I really feel. It’s different for you; this is my job.” Want toe het ek gedink, “No, that’s where you are wrong. For me, this is just a job. For you, this is a career. That’s the difference.” Dis scary om ‘n geloofsprong te neem, want so baie dinge kan so lelik verkeerd loop. En soms is dit die enkel beste ding wat jy ooit kon doen.

    Vrede vir jou.

  3. 3 Adam 18 October , 2007 at 14:45 pm

    So vind ek toe uit dat die R900-00 se TOEFL eksamen nie goed genoeg is vir Kanada nie. Nee. Hulle verwag ek moet die IELTS eksamen doen, teen R1610-00 stuk… Maal dit met twee.

  4. 4 Johan Swarts 21 October , 2007 at 18:27 pm

    wow, dis omtrent ‘n mondvol. sterkte!

  5. 5 Lammervanger 9 November , 2007 at 7:57 am

    Hel is ek die enigste mens wat nog op Blogger is…?

Leave a Reply