Nou ja, daar het al weer baie see in die water geloop vandat ek laas met julle kom gesels het. Ek het besluit dat ek vir altyd sal wag om oorsee te gaan as ek moet wag vir die geld om dit te kan doen.
Terwyl ek geswot het (ek besef ek is nog besig om te swot – maar nie vir lank nie – so hear me out) het ek my huidige werk as ‘n job gesien. Iets wat geld inbring tot ek eendag my beplande loopbaan kan begin. Toe kry ek nie keuring nie. En toe besluit ek dat ek nie binnekort verder gaan swot nie. Skielik word my huidige job ‘dit wat ek vir ‘n lewe doen’.
Danksy Bordeaux se entoesiasme oor Thailand het ek met die idee in my agterkop begin speel. Op ‘n dag kry ek ‘n sms van my suster: “Stel jy nie dalk belang om te gaan Engels gee in Thailand nie?” Ek val amper van my sekretaresse stoel af, en sms haar dadelik terug: “Jaaa, hoe het jy geweet?”
So stuur ek toe ‘n week later my CV vir die kontak van my sussie, wat ‘n kontak is vir ‘n skool in Thailand. Die pos is vir Novembermaand. Ek lig die baas in dat ek moontlik op kort kennisgewing sal moet waai ens. ens. Ek is vrek opgewonde. My intuïsie sê vir my dis die regte ding om te doen.
Andries gaan sit toe so bietjie en dink oor die saak. Hy heroorweeg ons opsies vir Kanada, en besluit dit sal beter wees as ek eers Aprilmaand gaan, want dan stoot dit ons punte vir Kanada op (julle weet ons wil Kanada toe emigreer?). So pak ek die tas wat reeds in my kop ingepak is maar weer uit. Eers is ek ‘n bietjie afgehaal en my entoesiasme gedemp, maar ek aanvaar dit toe as beter so…
Intussen het ek nog niks gehoor van my sussie se kontak nie, en wonder in my agterkop of dit die gevolg van my non-commitment is, en dat die universe vir my wag om ‘n besluit te neem…
Verder besluit ek om my CV vir ons kontak in Kanada ook te stuur, sodat hy solank vir my werk daar kan begin soek.
Oor die naweek pak my nek weer op. Soos ek hier sit en skryf is ek vol spierverslappers en het ‘n TransAct oor my skof geplak.
Gister neem die baas my vir koffie en ‘n vergadering. Sy sê dat haar kop ook ongelukkig begin dink het vandat ek gesê het ek wil aan beweeg. Sy het oor haar opsies ook begin dink. Sy kan sien dat my energie vlakke laer is as gewoonlik, en dat ek bored is by die werk, en dat sy dink dit sal ‘n goeie ding wees as ek iets anders gaan doen. Iets meer uitdagend en stimulerend. Sy dink Thailand sal goed wees vir my en Andries, en ons moet dit sien as ‘n tipe proef-emigrasie, om te sien hoe en of ons sonder ons vriende en familie klaarkom. Slim vrou my baas. Verder sê sy vir my ek moet kyk na die simboliese betekenis van my nekspasma. Mens se nek is die verbintenis tussen jou kop en jou lyf, en as jy daar moeilikheid optel moet jy jouself afvra hoekom is daar fout met die konneksie. Sy luister my uit en sê toe sy dink dis omdat dit wat my kop en hart vir my sê teenstrydig is met mekaar… Soos ek sê, slim vrou my baas.
So, nou’t ek gedink ek moet dalk tot die einde van die jaar werk, en dan my fortuin (of dan stimulasie) elders gaan soek. Net om seker te maak dat ons Kanada kanse nie in die wiele gery word nie, sal ons eers die TOEFL eksamen gaan doen, want dit kan ook ons Kanada punte beïnvloed. As ons goed doen in die TOEFL, beteken dit ons kan maar Thailand toe gaan. As ons minder goed doen, beteken dit ons moet wag tot April.
Ons het darem intussen aansoek gedoen vir ons paspoorte, en ek het ‘n tydelike ene ook gekry vir ingeval ek skielik moet gaan. Ek het ‘n transkripsie van my graad gekry, en my sertifikaat laat vertaal.
Om ons kanse vir werk in Thailand te verhoog, sal ons albei die TEFL kursus ook moet doen. As ek eers in of na Desember oorgaan is daar darem genoeg tyd om dit ook af te handel.
Nou ja, in ‘n neutedop waar ek deesdae staan…

Nuwe Kommentaar