Ek was te bang om die teenpool te oorweeg, en glo nogal sterk daarin dat elke mens sy eie realiteit skep. Dus het ek bloot geweier om die teenpool te bedink, aangesien te veel investering van energie dit dalk moontlik sou bewaarheid.
Ek het nog altyd gedink my pad vorentoe is redelik goed uitgelê. Die enigste struikelblok sou wees om al my studies af te handel om net te begin werk. Van die begin af het ek geweet dat dit nie so eenvoudig gaan wees soos dit hierbo klink nie. Daar sou op ‘n stadium keuring betrokke wees. My geloof in myself was sterk, en ek was gefokus op ‘n positiewe uitkoms. Dit besluit sou egter op die ou end nie in my hande wees nie.
Ek doen toe so ‘n maand gelede aansoek vir my Meestersgraad. Ek is positief oor my aansoek, en ek is positief oor die uitkoms daarvan.
Ek het by twee universiteite aansoek gedoen. Die eerste is waar ek my voorgraads gedoen het. Ek wou nie regtig my M daar gaan doen het nie, maar dog toe ek doen maar aansoek. Ter wille van die ondervinding, sien. Ek bel om te hoor. My naam is nie op hulle lys nie. Ek is egter nie uitgefreak nie, omdat ek in elk geval nie graag daar wou swot nie. Die element van skok speel wel ‘n rol, en ek is vir ‘n oomblik gefaze.
Vandag bel ek die tweede universiteit. Ek probeer steeds positief bly, en hou myself kalm terwyl die dosent aan die anderkant eerstens haar lys soek, en toe my naam op haar lys soek.
“No, your name is not on the list. Sorry”
‘n Paar dinge gebeur tegelyk in my brein, en ook eintlik glad nie. My heel eerste gedagte is: Okay. Cool. Jy sal oraait wees.
‘n Ruk later skop my rasionaliserings sin in, en probeer ek dink wat die implikasie nou eintlik hiervan is. Die vraag ontstaan onwillekeurig: Wat nou?
Wat nou?
Ek weet nie. Ek probeer my opsies kortliks opweeg, maar hulle wil nie vir een oomblik stilsit nie. Hulle hop heeltyd op en af op die skaal. Soveel so dat die weegskaal soos ‘n olieboor tekere begin gaan. Ek besluit om die teenoorgestelde te doen. Ek probeer die paadjie van denial, en ek skakel alle gedagtes daar rondom uit my kop.
Wat nou?
Sjuut, sê ek vir myself. Moenie nou daaraan dink nie.
Maar, wat nou?
Ek besluit om vir Andries te sms: “Ek is nie op Unisa se kandidate lys nie. Wat stel jy voor doen ek nou? Ek is bietjie moeg vir swot.” Andries het my nog nie geantwoord nie. Ek is nie lus om my ma te laat weet nie, want sy gaan my dadelik bel, en ek is nie lus om daaroor te praat nie. Ek is bang sy vra vir my wat nou gaan gebeur… Ek weet nie. Dit gaan dus ‘n sinnelose gesprek wees. Ek sal eers met haar gesels as die ding bietjie in my kop gemarineer het.
Ek los ‘n notatjie vir my baas. Sy vra hoe voel ek. Ek sê vir haar ek is orraait, maar ek dink dit sal my bietjie later tref. Sy sê ons kan later bietjie gesels oor die implikasies. Ek sal dit waardeer.
Al wat ek nou weet is dat daar nie ‘n Plan B is nie.
Ek voel soos Suid-Afrika na 2010: leeg en onbeplan.
Nuwe Kommentaar